021 976 4106

administrasie@bergsigdv.co.za

Mosambiek: Danie Murray – COVID-19, Kwarantyn en Malaria Mei 2020

Mosambiek: Danie Murray – COVID-19, Kwarantyn en Malaria Mei 2020

Mosambiek: Danie Murray – COVID-19, Kwarantyn en Malaria Mei 2020

Danie Murray, HANDEVAT-PROJEK, NOORD-MOSAMBIEK (vantevore ‘n gestuurde sendeling van Bergsig in Milange 1994 tot 2007)

Dinsdagoggend 10 Maart 2020.
Ek vertrek vanuit Brackenfell op pad na ‘n uitreik in Mosambiek. Oor die radio hoor ek van ‘n paar mense in RSA wat die Coronavirus opgetel het. Ek ry voorspoedig tot by Johan Eloff, ‘n dokter en oud-sendeling van Malawi, wat my uitnooi na ‘n besonderse biduur wat in Bloemfontein gehou word.

Die uitreik se eerste deel, rondom Nampula in Mosambiek, is geseënd. Die laaste paar dae begin my sinusse pla en ek het keelseer. Johan Eloff laat weet dat van die mense wat die biduur in Bloemfontein bygewoon het, positief getoets is vir die Corona virus. Ook van sy familielede toon simptome. Ek probeer soveel fisiese afstand tussen my en ander te skep soos ek kan, maar ons lewe maar redelik op mekaar en ry saam in ‘n toe voertuig.

In Milange aangekom, isoleer ek myself in die mediese huis wat as gastehuis gebruik word. Daar is nie goeie mediese versorging nie. My longe word geaffekteer en ek kry hoë koors. Ek moet vir myself sorg – kos voorberei, klere was, ens. Die Amerikaanse paartjie op die sendingstasie ontferm hulle oor my – bring soms etes en doen my aankope. Die Direkteur van Gesondheid van die distrik besoek my met handskoene en masker en registreer my kwarantyntyd. Van die plaaslike mense neem my kwalik dat ek die siekte vir hulle gebring het en dit maak my las swaarder.

Ek sukkel in die tyd dikwels met my eie gebrokenheid en daarom ook dikwels met my geloof. Wat soms in die verlede gebeur het, is dat daar geen reaksie was op dit waarvoor ek gebid het nie en dikwels presies die teenoorgestelde uitkoms as waarvoor ek gebid het. Dit het my geloof baie uitgedaag. Later het dit ‘n ooreenkoms tussen my en die Here geword. Soos die ongelowige Thomas wat nie kon glo dat Jesus regtig uit die dood opgestaan het nie. Toe Thomas later Hom sien en voel, het hy geglo. Toe sê Jesus vir hom dat hy gelukkig is omdat hy gesien het, maar meer gelukkig is hulle wat nie gesien het nie en tog geglo het. Ek het myself al meer in daardie kategorie geplaas. Dikwels word ek nie toegelaat om te sien nie, maar dat ek nogtans moet glo. Baie sake in my lewe het ek dan so hanteer.

‘n Ander gebrokenheid was dat ek soms angstig raak. Dit is seker nie so gereeld nie, en ook nie so snaaks nie, want in Mosambiek loop meeste goed nie volgens plan nie en beland mens dikwels in gespanne situasies. Twee gevalle waaraan ek kan dink is tydens die sikloon –  tyd op ‘n modderpad in die nag en jy weet nie of jy dit gaan maak nie en nie weet waar jy die nag gaan deurbring nie en dan gly jy van die pad af. Of toe hulle oor mens se kop begin skiet in die geweldgeteisterde Cabo Delgado provinsie. Ek deel dit met my dokter en sy gee toe vir my pilletjies vir angstigheid.

Nou, daar in Milange, toe die siekte sy hoogtepunt bereik, het ek al moeiliker begin asemhaal en was ek baie benoud. Ek hoes later so baie dat ek fiks geword het daarvan… Dit wou net nie ophou nie. Alhoewel die koors op daardie stadium nie baie hoog was nie, het dit saamgegaan met ‘n ongelooflike gebrek aan energie; sodanig dat ek gesukkel het om ‘n suurlemoen uit te druk. Alleen in die nag sonder enige “backup” het ek angstig geraak. Maar natuurlik was dit menslik gesproke, want ek kon met die Here praat. En toe is Hy daar. Dit was nie, soos in baie gevalle, ‘n Thomas-uitspraak nie. Ek kon Hom figuurlik gesproke sien. Dit is amper soos in Effesiërs waar Jesus vertel dat Hy aan die regterhand van God sit ver bo alle mag, gesag of siekte of toekoms of verlede of enige iets waaraan ons nie eers kan dink nie. En dat ons as gelowiges daar saam met Hom sit. Terwyl ons in liggaam aan al die gebrokenheid, pyn en dood onderwerp is, ons ook net so werklik saam met Hom daar langs ons Vader sit.

Dit is asof die Here vir my gewys het dat, alhoewel ek meestal uit geloof moet leef, Hy vir Thomas laat sien en voel het. Asof Hy vir my sê: “Jy sien, my kind, ek doen aan jou die guns om jou meestal deur geloof te laat leef, maar ek ken jou swakhede en veroordeel dit nie, Ek kom wys net vir jou die werklike realiteit. Ek weet jy het dit nou nodig. Jy het gebid vir genesing, maar ek het jou deur dit laat gaan, maar wil juis deur dit vir jou die gordyn (soos ook in die tempel) bietjie oopskeur dat jy ook kan sien hoe die Hemel en Aarde werklik lyk. Moenie dat die wêreld en die duiwel jou oortuig van die leuen nie. Jy moet weet hoe lyk die Hemel en Aarde regtig! Dit is vir my belangrik dat jy weet, want jy is belangrik vir my Hemel en Aarde of anders gestel, my Koninkryk. Die ongelooflike gebrokenheid – en moet dit nie ontken of vermy nie – en My heerlikheid. Die swaarkry gaan verby, Ek het ‘n grens daarvoor gestel. Niemand kan die grens skuif nie, en daarna is dit verby.”

‘n Vrede waartoe ek nie vanself in staat is nie, het oor my gedaal. Ek kan dit nie self bereik of deur positiewe denke bou nie. Ek as mens is net nie daartoe in staat nie. Hy moes dit bo-natuurlik vir my gee. Daardie pilletjies lê nou maar in die kas en ek slaap nou beter as voor die grendeltyd. My gesin moes ‘n maand langer vir my wag, en moes self ‘n paar uitdagings hanteer bo en behalwe my siek wees en weg wees. Selfs hulle was rustig (dalk steek dit aan)?

My gebrokenheid maak natuurlik dat ek altyd die lesse van vandag – asook dikwels môre – weer vergeet. Ek kan dikwels al die feite onthou, maar die angstigheid luister nie altyd na die waarheid nie.

Tydens my 14 dae isolasie in Milange lig ek my bed op aan die agterkant, drink BAIE warm drankies, stoom met bloekomblare, drink baie suurlemoensap, gorrel met soutwater, ens. Die hoes het minder geword, maar lank aangehou. Na ‘n paar dae is ek deur die Superintendent gesond genoeg verklaar en moes in RSA kom. Dit is ‘n lang storie en ook lang paaie, maar ek word toe gerepatrieer en beland in die kamp waaroor so baie gekla is en waaroor die hofsaak was. Ek het heel goed daar gebly terwyl die hofsaak probeer het om ons vroeër huis toe te laat gaan. Daar word ek toe weer siek. Ek het malaria-toetse by my. Die toets is positief en ek begin dadelik met behandeling.  Na twee lekker siek dae is dit toe ook oor. Die angstigheid het nie teruggekom nie. Die vrede wat alle verstand te bowe gaan, is tot vandag toe nog by my.

Groete

Danie & Bonny Murray

 

NG Kerk Durbanville-Bergsig